Free Calendar by Brolmo.com   tuis - jongste nuus

Sportrooster, K2     |    Klasposisies K1, 2017 

 
 
Geplaas op 23 Mei 2017,14:51 
   

Geagte ouers, leerders en vriende

Graag deel ons 'n paar onlangse gebeure. Verlede week het die hoërskool rugby en netbal teen Laingsburg gespeel terwyl die laerskool met Towerkop en EK Primêr kragte gemeet het. Die laerskool netbal het alle wedstryde gewen terwyl die hoërskool-spanne ongelukkig vasgeval het. Ons laerskool-spanne lewer vanjaar besonder goeie uitslae en hulle is reeds 'n gedugte groep spelers.

Die laerskool rugbyspanne het teen Towerkop verloor, maar teen EK gewen. Die hoërskool O-16 span het met 13-10 teen Laingsburg geseëvier terwyl die O-19's met 0-5 vasgeval het. Laasgenoemde was 'n klipharde wedstryd met die spanning wat van begin tot einde hoog geloop het.

'n Skattejag, wat deur die VRL georganiseer is, het op 17 Mei plaasgevind. Die leerders moes die hele terrein vir leidrade deursoek. Die algehele wenners is deur middel van 'n boeresportresies bepaal. Met selfone waarmee die veld verlig is, was dit omtrént 'n konsternasie. Maar die uitbundige gelag en bloedstollende gille het vir groot pret gesorg! Baie dankie, VRL - dit was puik!

    Op 22 Mei het ons skaakspan vriendskaplike wedstryde teen Shalom gespeel. Daar is heelwat talent tussen ons leerders met veral Mario Huisamen wat strategie voor brute kragspel stel. Dankie aan mnr le Roux wat die leerders onder sy vlerk neem. Hoe lyk dit, meneer? Sien u kans om mnr Dekker aan te vat?
  Skaak teen Shalom
 

Dan besoek D.O.E.P. die skool op Vrydag, 26 Mei. D.O.E.P is 'n sanger en kletsrymer wat, met behulp van sy talente, jongmense meer oor Jesus leer. Hy tree ook Vrydagaand, 18h00, by die NG Kerk op. Ingangsfooie beloop slegs R1, R2 of R5 - dit is u keuse.

Woensdag, 24 Mei, speel ons teen RP Botha rugby en netbal. Die wedstryde begin om 15h30 en vind by die sportvelde in Zoar plaas. Leerders moet asseblief teen 14:45 reeds in die bussies sit.

Op Saterdag, 10 Junie, word 'n spesiale byeenkoms naamlik It's Time op Towerkoppark aangebied. Die verrigtinge duur van 11:00 tot 15h00. Almal is baie welkom! Bring asseblief u eie stoel asook verversings. Lewendige musiek en worship word aangebied. Indien u meer inligting verlang, kontak gerus u kerk. Die gasspreker is Leon Terblanche, 'n pastoor by Suid-Kaap Christian Family Church.

Ons herinner u daaraan dat die Junie-eksamen binnekort afskop. U kind het reeds die rooster ontvang - dit sal eersdaags aanlyn beskikbaar wees.

Geniet die res van die week saam met ons!

Groete,
HSL

Geplaas op 8 Mei 2017,14:47 
   

Hartlik welkom in die vierde week! Ons waarde is verdraagsaamheid.

Verlede Woensdag het die O-14 en O-18 netbalspanne teen Shalom te staan gekom terwyl die laerskool rugbyspanne Donderdag teen hulle gespeel het. Ons O-9 manne het aanvanklik swaar geleef, maar die wedstryd het teen die einde beter gevloei. Shalom het ons egter behoorlik ore aangesit!

Die afgelope naweek se sportdag in Heidelberg was oudergewoonte uitstekend georganiseer en 'n groot sukses. Die O-11 netbalspan het die beste gevaar - hulle het vier van hul vyf wedstryde gewen. Die O-11 rugbyspan kon een wedstryd beklink terwyl die O-13's een drie in hul gelykop uitslag van 5 - 5 teen Laerskool Durbanville gedruk het. Die O-19 span het 'n moeilike dag beleef. Die manier hoe hulle egter tot die laaste sekonde bly baklei het, was prysenswaardig. Hul twee wedstryde se uitslae was as volg: 12 - 0 in Riversonderend se guns en 20 - 7 in Oakdale E s'n. 'n Pragdrie deur Leonardo Rooi het die ondersteuners op hul voete gehad. Die span het ongelooflike moed getoon deur seuns wat veel groter as hulle is, aan te durf.

Wat die netbalproewe betref, die volgende. Gabbi Pheiffer, Janalize Jelander, Tacara April en Patricia Farao het verlede week aan die Eden-proewe te Hoërskool Oudtshoorn deelgeneem. Volgens mej de Villiers was die kompetisie ontsettend sterk - netbal is bekend daarvoor dat dit uiters kompeterend is. Ten spyte van die sterk kompetisie is Gabbi Pheiffer in die Eden-span opgeneem. Dit is 'n fantástiese prestasie - baie geluk!!

Ons speel komende Woensdag, 10 Mei, teen Towerkop. Die netbalwedstryde word op HSL se bane gespeel terwyl die rugby op Towerkoppark plaasvind.

Karate-klasse word vanaf Dinsdag, 9 Mei, om 17:00 in die LO-saal aangebied. Kostes beloop R70 per maand. Een van ons huidige personeellede, mnr Dekker (blou belt & SWD-kleure in Goju Ryu), kan van die talle voordele wat karate inhou, getuig. Dit verbeter krag, soepelheid, konsentrasie, dissipline, uithouvermoë, reflekse en besluitneming.

Die VRL beplan 'n skattejag vir die graad 10 tot 12 leerders asook boeresport vir die graad 7 tot 9's. Die beoogde datum is Donderdag, 11 Mei. Meer inligting volg binnekort.

Geniet u week!

Geplaas op 2 Mei 2017,15:57 
   

Goeiemiddag, Ouers!

Die waarde vir die week is Uitmuntendheid. Mag alles wat u en ons aanpak uitmuntende resultate lewer! 'n Paar datums vir u dagboek:

  • 2 Mei: Kannaland Rugby vs. Langenhoven, wegwedstryd.
  • 3 Mei: o-14 en o-18 Netbal vs. Shalom, tuis.
  • 3 Mei: Skaak-afrigting begin, direk ná skool in mnr le Roux se klas.
  • 4 Mei: Rugby teen Shalom. Ons laat weet u wanneer die venue bevestig is.
  • 5 en 6 Mei: Eden Netbalproewe, Oudtshoorn. Gabbi Pheiffer, Janalize Jelander, Tacara April en Patricia Farao verteenwoordig HSL.
  • 6 Mei: Heidelberg Sportdag.

Graag verwelkom ons mev Karien van Tonder terug in ons midde! Mev van Tonder was op siekverlof en het volkome herstel.

Geniet die week saam met ons!

Geplaas op 24 April 2017,11:32 
   

Geagte Ouers

Die waarde vir die week is Toewyding. Baie dankie aan ons jeugwerker, mnr Andrew Viljoen, wat die waarde tydens vanoggend se saalbyeenkoms behandel het.

Mnr le Roux, mev Peceur en mej de Villiers was die afgelope naweek in Bloemfontein waar hulle Angus Buchan se gebedsbyeenkoms bygewoon het. Welkom terug!

Mev Marietjie Nel is met bronchitis in die plaaslike hospitaal opgeneem. U voorbidding word opreg waardeer. Mev van Tonder sal volgende week terug op haar pos wees. Interne reëlings met betrekking tot die Afrikaanse klas is in plek.

'n Paar datums vir die week:

  • 24 April: Senior Taalbondeksamen.
  • 25 April: Kannaland Netbalproewe, tuis.
  • 25 April: Kannaland o-16 en o-19 Rugby vs. Oakdale, wegwedstryd.

Geniet die kort week!

Geplaas op 21 April 2017, 9:02 
   

Graag bedank ons die ouers wat gisteraand se SBL-tussenverkiesing bygewoon het. Janine Ruiters en Janice Makriga is tot die beheerliggaam verkies. Baie geluk en sterkte met die taak!

Mev Annalize Nel, ons veerpytljie-yster, is onlangs in die Oudtshoorn Assosiasie span asook die Eden span opgeneem. Hulle gaan binnekort aan die SA's deelneem. Haar prestasie is inderdaad 'n veer in ons hoed - baie geluk!

Belangrike kennisgewing: die skool verdaag komende Maandag om 13:00. 'n Hele paar opvoeders moet vergaderings bywoon en moet die skool vroeër verlaat. Tref asseblief u reëlings dienooreenkomstig.

Geplaas op 19 April 2017, 8:39 
 

Geagte Ouers

Welkom terug! Ons vertrou u het 'n aangename tyd saam met u kind(ers) beleef. Ons sien uit na 'n bedrywige tweede kwartaal propvol geleenthede en aktiwiteite. Graag bring ons die volgende onder u aandag:

  • Mev Carina Olivier het verlede kwartaal afgetree. Mev Heimie van Wyk is die nuwe Besigheidstudie- en LO-Opvoeder. Juffrou van Wyk het geen bekendstelling nodig nie. Die Hoërskool is bevoorreg om haar in hul midde teverwelkom!

  • Mnr Andrew Davids is as die Laerskool se nuwe departementshoof aangestel. Baie welkom, mnr Davids! Mnr Davids is 'n bekende gesig in Kannaland en ons skool gaan verseker by sy ervaring baat vind.

  • Ons verwelkom graag me Roxanne Griebelaar! Me Griebelaar het in die verlede by die skool geproef en is vertroud met ons prosedures. Me Griebelaar is by graad 4, 5, 7 en 8 betrokke. Sterkte aan u!

  • Voorts het mev Annalise Nel, mev Linda Radyn en mev Ina De Wit gedurende die vakansie verjaar. Baie geluk, dames! God se rykste seën word jul toegebid.
 

Ons herinner u vriendelik aan die SBL-tussenverkiesing wat môre-aand om 19:00 in die skoolsaal plaasvind. Vervoer na en vanaf die skool sal beskikbaar wees. Die optelpunte is as volg, vanaf 18:00:

  • Zoar - Protea Park
  • Sakkiesbaai - By afdraai vanaf R62 na Sakkiesbaai
  • Nissenville - Gemeenskapsaal

Ons doen 'n beroep op u om hierdie uiters belangrike vergadering by te woon.

 

NB: alle berigte wat tydens die eerste kwartaal verskyn het, kan deur middel van die argief besigtig word. Die argief verskyn links onder op die webtuiste.

Die sportrooster vir die tweede kwartaal is verlede kwartaal op die webtuiste geplaas. Kliek op die betrokke skakel bo-aan die bladsy om 'n *.pdf-lêer daarvan af te laai. Alternatiewelik kan u hier kliek.

Die Kannaland Hoërskool Netbalproewe vind môre-middag om 15:00 by die skool plaas.

Mag u 'n suksesvolle en geseënde kwartaal saam met die skool en u kind ervaar. Ons hou op hoogte van datums, wedstryde, uitslae ensovoorts.

Groete,
HSL

  skoolleuse  
  Ons leuse is Excelsior, 'n Latynse woord. Dit beteken om altyd hoër te streef en om jouself voortdurend te verbeter. Die leuse is soortgelyk aan die Latynse woorde semper altior - altyd hoër.
 
  nss-uitblinkers, 2016
 

Die volgende leerders het uitstekend tydens die afgelope Nasionale Senior-Sertifikaat eksamen presteer. Ons is waarlik trots op hulle!

Marcel Simpson - 7 Onderskeidings (7 vakke)

  Marcel het die eksamen met 'n gemiddelde persentasie van 89% geslaag en het in alle vakke uitgeblink. Sy is deurgaans tydens haar loopbaan in die VOO-Fase met Akademiese Erekleure beloon.

Sy studeer tans Medies aan die Universiteit van Stellenbosch.

Alecia Lourens - 6 Onderskeidings (7 vakke)
  Alecia het die eksamen met 'n gemiddelde persentasie van 83% geslaag. Sy is deurgaans tydens haar loopbaan in die VOO-Fase met Akademiese Erekleure beloon.

Sy studeer tans B.Com Digitale Bemarking aan die Prestige Academy in Bellville.
 
  verfraaiingsprojek - foto's

Bootstrap Slider
 
  argief  


Kwartaal 1, 2017

 
   
               
   
 
ontwerp / ontwikkelling / instandhouding:  d EX   |  kopiereg © hoërskool ladismith 2017  |  hosting deur webafrica   
hsladismith@gmail.com geskiedenis van die skool